AO3 News

Post Header

Published:
2021-06-28 16:09:47 UTC
Original:
AO3 Statistics 2020: An Update
Tags:

In Mei verlede jaar het ons 'n blik op die verkeersyfers van die Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie) geplaas, wat nogal dramaties toegeneem het vroeg in die jaar (waarskynlik weens die pandemie). Nou het ons die syfers vir die hele jaar en kan ons bevestig dat, ja, mense het beslis baie fanwerke in 2020 besoek! Ons kan ook nuus deel oor verkeersyfers vir die eerste kwartaal van 2021.

 

Daaglikse verkeer in 2020

'n Grafiek wat daaglikse verkeer in 2020 wys. Die laagste rekords is om en by 35 miljoen, die hoogste is om en by 58 miljoen.

Beeld: 'n Grafiek van AO3 verkeer in miljoene bladsye besigtig per dag, vir elke maand van 2020. Verkeer is konstant hoog op Sondae, wat maandelikse lyne met heuwels en dale skep. Vir Januarie tot Maart tros die lyne saam by ongeveer 35 miljoen tot 40 miljoen bladsye besigtig; die ander maande is merkbaar bo dit, tussen 45 miljoen en 55 miljoen, met Desember se Sondae nader aan 60 miljoen.

Die verkeer in Maart, wat deur die groen lyn in die grafiek hierbo voorgestel word, het in die middel van die maand skerp begin styg. Die ses maande daarna is gekenmerk deur hoër verkeer in die algemeen, en 'n minder duidelike kontras tussen die werksweek en die naweek.

Die laagste getal op rekord was 31,3 miljoen bladsye besigtig op Maandag, 13 Januarie, met 'n tipiese Sondag op daardie stadium ongeveer 43 miljoen. Van April tot September het die getalle gekronkel tussen ongeveer 45 miljoen en 51 miljoen bladsye besigtig.

Eers in laat Oktober het die verkeer bo die nuwe normaal begin styg, met 'n reeks rekordhoogtes in November, wat in oranje vertoon word. Desember, in rooi, was nog altyd die besigste maand vir die AO3, en 2020 was geen uitsondering nie. Die opvallendste is twee drastiese verkeersinsinkings op 24 Desember en 31 Desember, met 'n ware berg van bladsye besigtig tussen daardie vakansiedae. Die rekord vir 2020 is op Sondag 27 Desember gehaal, met 61,1 miljoen bladsye besigtig.

📈 Onbewerkde data kan in hierdie spreitabel gevind word: Daaglikse AO3 Verkeer in 2020 (Google Sheets, in Engels)

 

Webwerfaktiwiteit in 2020

'n Grafiek wat nuwe kommentaar per maand sowel as verkeer per maand in 2020 wys.

Beeld: 'n Lyngrafiek wat aandui hoeveel kommentaar gelos is en hoeveel bladsye besigtig is vir elke maand van 2020. Kommentaar, wat in swart aangedui word, begin by ongeveer 2,15 miljoen in Januarie en eindig op ongeveer 3,5 miljoen in Desember. Verkeer, in rooi, begin by 1,2 miljard bladsye en eindig by 1,7 miljard. Albei neig opwaarts, met 'n algemene patroon van effense dalings in Junie en September, en styg weer sterk in Desember.

Soos verkeer in Maart verlede jaar op die webwerf begin toeneem het, so ook het gebruikersaktiwiteit, soos gemeet in nuwe werke, hoofstukke, boekmerke, kommentaar en kudos wat elke maand geplaas is. Gebruikers het in Maart rondom 2,3 miljoen stukke kommentaar gelos, ongeveer 150 000 meer as in Januarie. In April het dié getal tot 2,9 miljoen gestyg.

(Na 'n soortgelyke tendens, het gebruikers in Maart ongeveer 17,3 miljoen keer op die kudos-knoppie gedruk, vergelyk met 16,9 miljoen in Januarie. In April: 20,4 miljoen.)

📈 Onbewerkde data kan in hierdie spreitabel gevind word: Maandelikse AO3 Aktiwiteit in 2020 (Google Sheets, in Engels)

 

Verkeer oor die jare

'n Grafiek wat weeklikse verkeer jaar op jaar wys. Rondom 17 miljoen in die middel van 2012, 130 miljoen middel van 2016, 270 miljoen vroeg 2020 en oor 400 miljoen teen die einde van 2020.

Beeld: 'n Grafiek wat die groei van AO3 verkeer toon vanaf middel 2012 tot einde 2020, gemeet in weeklikse bladsye besigtig. Elke week is 'n kolletjie, elke jaar 'n kronkelende lyn van kolletjies. Die verkeer neig opwaarts elke jaar, met herhalende patrone. September is byvoorbeeld geneig om 'n stadige maand te wees met merkbare dalings. Die meeste van die lyne is relatief naby aan mekaar, wat 'n konstante groei in die verkeer oor die jare verteenwoordig, met 'n baie groter gaping tussen 2019 en die grootste deel van 2020. Laagste punt: 15,8 miljoen in die laaste week van Junie 2012. Hoogste punt: 419 miljoen in die laaste week van Desember 2020.

Weereens is 2020 merkbaar met 'n groot sprong in die middel van Maart, toe grendeltye regoor die wêreld geïmplementeer is en/of mense hulself begin isoleer het. Verkeer het toegeneem, van ongeveer 270 miljoen bladsye besigtig per week in Januarie en Februarie tot 330 miljoen vroeg in April, en 340 miljoen teen Mei. Dieselfde tyd in 2019 was verkeer rondom 230 miljoen bladsye per week.

Verkeer het tot laat Oktober onder die 350 miljoen vlak afgeplat, in 'n patroon wat meer ooreenstem met die vorige jare, en het toe teen die einde van die jaar weer begin toeneem. Die heel eerste week van Januarie, wat dikwels die einde van Desember insluit, is gewoonlik wanneer nuwe rekordhoogtes bereik word.

Om te vergelyk, hier is die bladsye besigtig (in miljoene) vir die week wat eindig op:

  • 06 Jan 2013: 27,6
  • 05 Jan 2014: 49,5
  • 04 Jan 2015: 84,6
  • 10 Jan 2016: 114
  • 08 Jan 2017: 158
  • 07 Jan 2018: 189
  • 06 Jan 2019: 219
  • 05 Jan 2020: 281
  • 10 Jan 2021: 414

📈 Onbewerkde data kan in hierdie spreitabel gevind word: Weeklikse AO3 Verkeer in 2020 (Google Sheets, in Engels)

 

Daaglikse verkeer in 2021

'n Grafiek wat daaglikse verkeer vir die eerste kwartaal van 2021 wys. Die laagste rekords is rondom 58 miljoen, die hoogste rondom 66 miljoen.

Beeld: 'n Grafiek van AO3 verkeer in miljoene bladsye besigtig per dag, vir Januarie, Februarie en Maart van 2021. Verkeer is konstant hoog op Sondae, wat maandelikse lyne met heuwels en dale skep. In Januarie het die hoeveelheid bladsye wat daagliks besigtig is gewissel tussen ongeveer 58 miljoen en 64 miljoen. Verkeer in Februarie en Maart was hoër (tussen 60 miljoen en 66 miljoen) en altwee maande het dieselfde patroon gevolg van dalende verkeer van Maandag tot Vrydag en 'n skerp styging oor naweke, met byna identiese getalle. 'n Nuwe rekord is op Sondag 28 Maart bereik met 68,6 miljoen bladsye besigtig.

Die gebruik van die webwerf bly hoog in 2021, alhoewel die hoeveelheid bladsye wat op piekdae besigtig word huidiglik op net onder 70 miljoen gestabiliseer het. Alhoewel verkeer nie meer hand oor hand toeneem nie, lyk dit tog of 2021 nog 'n rekordjaar gaan word!

Ons is dankbaar vir almal wat A03 gebruik om fanwerke te deel en geniet, die skenkers wie se bydraes betaal vir die kragtige bedieners wat hierdie verkeer so glad hanteer, en al die vrywilligers wie die webwerf aan die gang hou. Ons sien uit na die res van die jaar!

📈 Onbewerkde data kan in hierdie spreitabel gevind word: Daaglikse AO3 Verkeer in Q1 2021 (Google Sheets, in Engels)